13 Ester het geantwoord: “As die koning dink dit is reg, dan moet jy vir die Judeërs in Susan sê dat hulle môre dieselfde mag doen wat hulle vandag gedoen het. En jy moet die tien seuns van Haman laat ophang aan die paal.”
14 Die koning het gesê dit is goed, en die mense in Susan het gehoor wat hy besluit het. Hulle het die tien seuns van Haman opgehang.
15 Die Judeërs in Susan het ook op die 14de dag van die maand Adar bymekaargekom en hulle het nog 300 mense in Susan doodgemaak. Maar hulle het nie hulle vyande se goed vir hulleself gevat nie.
16 Die Judeërs in die ander provinsies van die koning het ook bymekaargekom om hulleself te verdedig. Hulle het gewen teen al hulle vyande en hulle het 75 000 mense doodgemaak wat vir hulle gehaat het. Maar hulle het nie hulle vyande se goed vir hulleself gevat nie.
17 Dit was op die 13de dag van die maand Adar. Op die 14de dag het hulle gerus, en hulle het besluit dat daardie dag ’n feesdag moet wees. Hulle was vrolik op daardie dag.
18 Maar die Judeërs in die stad Susan het op die 13de én op die 14de dag bymekaargekom en hulle het op die 15de dag gerus. Daarom het hulle besluit dat die 15de dag ’n feesdag moet wees. Hulle was vrolik op daardie dag.
19 Daarom het die Judeërs wat woon in die stede wat nie mure het nie, die 14de dag ’n feesdag gemaak. Dit is ’n vakansiedag en hulle stuur dan kospakkies vir mekaar.