19 Daarom het die Judeërs wat woon in die stede wat nie mure het nie, die 14de dag ’n feesdag gemaak. Dit is ’n vakansiedag en hulle stuur dan kospakkies vir mekaar.
20 Mordegai het al hierdie dinge opgeskryf, en hy het briewe geskryf vir die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros. Hy het geskryf vir die Jode wat naby was en ook vir die Jode wat ver was.
21 Mordegai het gesê hulle moet elke jaar op die 14de en die 15de dag van die maand Adar feesvier.
22 Die Judeërs moet op daardie dae onthou dat hulle al hulle vyande oorwin het. Hulle moet ook onthou dat dit die maand is wanneer hulle hartseer sou gewees het en sou gerou het, maar dit het só verander dat hulle bly kon wees en kon feesvier. Dit was nou dae wanneer hulle vir mekaar kospakkies stuur en vir arm mense presente gee.
23 Die Judeërs het aangehou om te doen wat hulle begin doen het, soos Mordegai vir hulle geskryf het.
24 Haman seun van Hammedata, van die nageslag van Agag, was die vyand van die Judeërs. Hy wou die Judeërs almal doodmaak. Hy het die “pur” gegooi, dit beteken hy het lootjies getrek om te weet op watter dag hy hulle almal moet laat doodmaak.
25 Maar toe het Ester by die koning gekom, en die koning het anders besluit. Hy het gesê hulle moet skryf dat die slegte plan wat Haman teen die Judeërs gemaak het, met homself moet gebeur. Hulle het toe vir Haman en sy seuns aan die paal opgehang.