22 Die Judeërs moet op daardie dae onthou dat hulle al hulle vyande oorwin het. Hulle moet ook onthou dat dit die maand is wanneer hulle hartseer sou gewees het en sou gerou het, maar dit het só verander dat hulle bly kon wees en kon feesvier. Dit was nou dae wanneer hulle vir mekaar kospakkies stuur en vir arm mense presente gee.
23 Die Judeërs het aangehou om te doen wat hulle begin doen het, soos Mordegai vir hulle geskryf het.
24 Haman seun van Hammedata, van die nageslag van Agag, was die vyand van die Judeërs. Hy wou die Judeërs almal doodmaak. Hy het die “pur” gegooi, dit beteken hy het lootjies getrek om te weet op watter dag hy hulle almal moet laat doodmaak.
25 Maar toe het Ester by die koning gekom, en die koning het anders besluit. Hy het gesê hulle moet skryf dat die slegte plan wat Haman teen die Judeërs gemaak het, met homself moet gebeur. Hulle het toe vir Haman en sy seuns aan die paal opgehang.
26 Daarom noem hulle hierdie feesdae Purim, want hulle het die “pur” gegooi, dit beteken hulle het lootjies getrek. Die Judeërs vier fees op hierdie dae omdat Mordegai dit so geskryf het in sy brief en omdat dit alles so met hulle gebeur het.
27 Die Judeërs het besluit dat hulle en hulle nageslag en almal wat Judeërs word, hierdie twee dae altyd sal vier op die regte tyd.
28 Elke geslag, elke familie, elke provinsie, elke stad, sal op hierdie dae altyd feesvier. Die Judeërs en hulle nageslag sal hierdie dae van Purim nie vergeet nie.