8 Abram het van daar verder getrek na die berg oos van die stad Bet-El, en hy het sy tente daar opgeslaan. Bet-El was wes van hulle, en die stad Ai was oos. Abram het daar ’n altaar vir die Here gebou. Hy het die Here aanbid.
9 Later het Abram verder getrek na die Suid-land toe.
10 In daardie tyd was daar hongersnood in die land. Abram het na Egipte gegaan om daar te gaan woon, want daar was baie min kos in sy eie land.
11 Toe hy naby Egipte kom, het hy vir sy vrou Sarai gesê: “Ek weet jy is ’n mooi vrou.
12 Wanneer die mense van Egipte jou sien, dan sal hulle sê: ‘Dit is Abram se vrou.’ Dan sal hulle my doodmaak, maar vir jou sal hulle laat lewe.
13 Jy moet vir hulle sê jy is my suster. Dan sal hulle my nie doodmaak omdat hulle jou wil hê nie. Hulle sal dink ek is jou broer en hulle sal goed wees vir my. So sal jy help om my lewe te red.”
14 Toe Abram in Egipte kom, het die mense van Egipte gesien Sarai is baie mooi.