Genesis 8 ABA

Die Here laat die watervloed ophou

1 God het gedink aan Noag en die diere wat saam met hom in die ark was. God het ’n wind oor die aarde laat waai. Die water het minder geword en begin sak.

2 Die fonteine het toegegaan, en dit het opgehou reën.

3 Die water het minder en minder geword en weggesak. Na 150 dae het die water baie vlakker geword.

4 Op die sewentiende dag van die sewende maand het die ark op die Ararat-berge gaan lê.

5 Die water het nog minder en minder geword, en op die eerste dag van die tiende maand kon die mense in die ark die boonste punte van die berge sien.

6 Ná nog 40 dae het Noag die venster oopgemaak van die ark wat hy gebou het.

7 Hy het ’n kraai laat uitvlieg. Maar die kraai het aangehou vlieg totdat die water opgedroog het.

8 Toe het Noag ’n duif laat uitvlieg om uit te vind of die water weggevloei het van die grond af.

9 Die duif het nie ’n plek gekry waar hy kon gaan sit nie, en hy het teruggekom na die ark, na Noag toe. Die water was nog oor die aarde. Toe die duif terugkom, het Noag sy hand uitgesteek en hy het die duif gevang. Hy het die duif weer in die ark ingebring.

10 Noag het nog sewe dae gewag. Hy het die duif toe weer laat uitvlieg.

11 Daardie aand het die duif na hom toe teruggekom, en daar was ’n vars olyfblaar in sy bek. Noag het toe geweet die water het baie minder geword.

12 Hy het nog sewe dae gewag. Toe het hy weer die duif laat uitgaan, maar die duif het nie na hom toe teruggekom nie.

13 Toe Noag 601 jaar oud was, op die eerste dag van die eerste maand, was die water weg. Noag het die ark oopgemaak en gesien die grond het begin droog word.

14 Op die sewe-en-twintigste dag van die tweede maand was die aarde droog.

Noag gaan uit die ark uit

15 Toe sê God vir Noag:

16 “Jy en jou vrou en jou seuns en jou skoondogters moet nou uit die ark uitgaan.

17 Al die diere en die voëls wat by jou in die ark is, moet saam met jou uitgaan. Hulle moet meer word sodat daar weer baie diere oral op die aarde kan wees.”

18 Noag en sy seuns, sy vrou en sy skoondogters het toe almal uit die ark gegaan.

19 Al die verskillende soorte diere en voëls het ook uit die ark gegaan.

Die Here belowe Hy sal nie weer die aarde vervloek nie

20 Noag het ’n altaar gebou om vir die Here ’n offer te bring.Hy neem toe een van elke soort rein dier en een van elke soort rein voël, en hy offer brand-offers op die altaar vir die Here.

21 Die offers het lekker geruik vir die Here, en Hy het gesê: “Ek sal nooit weer die aarde vervloek omdat Ek die mense wil straf nie. Die mense is so, hulle dink net slegte dinge vandat hulle gebore is. Maar Ek sal nie weer al die mense en diere doodmaak soos Ek nou in die watervloed gedoen het nie.

22 “So lank soos die aardehier sal wees,sal daar ’n tyd wees om te planten ’n tyd om te oes,’n tyd wanneer dit koud is,en ’n tyd wanneer dit warm is,somer en winter, dag en nag.Dit sal altyd so wees.”

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42 43 44 45 46 47 48 49 50