10 Die slaaf neem toe tien kamele van sy eienaar en hy gaan. Hy het baie presente van Abraham saamgeneem. Hy het na die land Mesopotamië gegaan, na die stad waar Nahor gewoon het.
11 Een middag laat het die slaaf die kamele laat rus by ’n fontein buite die stad. Dit was die tyd wanneer die meisies elke dag water kom haal het.
12 Die slaaf het gebid: “Here, God van my eienaar Abraham, U moet asseblief vandag ’n goeie ding met my laat gebeur en U moet goed wees vir my eienaar Abraham.
13 Kyk, ek staan hier by die fontein, en die meisies kom uit die stad om water te kom skep.
14 Ek sal vir ’n meisie vra: ‘Hou asseblief jou waterkruik sodat ek kan drink.’ As sy dan sê: ‘Jy mag drink, en ek sal jou kamele ook laat drink,’ dan sal ek weet U het haar gekies vir u dienaar Isak. Dan sal ek ook weet dat U doen wat U vir my eienaar belowe het.”
15 Hy was besig om dit te sê, toe kom Rebekka daar. Sy het haar waterkruik op haar skouer gedra. Sy was die dogter van Betuel, en Betuel was die seun van Abraham se broer Nahor en sy vrou Milka.
16 Die jong meisie was baie mooi, en sy het nog nie by ’n man geslaap nie. Sy het afgegaan na die fontein en sy het haar waterkruik volgemaak en weer boontoe gekom.