10 Wat Onan gedoen het, was verkeerd. Die Here was ontevrede daaroor en Hy het vir Onan ook laat sterf.
11 Juda sê toe vir sy skoondogter Tamar: “Gaan terug na jou pa se huis en bly ’n weduwee totdat my seun Sela groot is.”Juda was bang dat Sela ook sou sterf, soos sy broers. Tamar het in haar pa se huis gaan bly.
12 Ná ’n lang tyd het Juda se vrou Bat-Sua gesterf. Hy het gehuil en getreur oor haar, en toe die tyd verby was toe hy gerou het, het hy na die stad Timna gegaan om sy skape en bokke te gaan skeer. Sy vriend Gira van Adullam het saam met hom gegaan.
13 Die mense het vir Tamar vertel: “Jou skoonpa gaan na Timna om sy skape en bokke te skeer.”
14 Tamar het gesien dat Sela groot geword het, maar Juda het haar nie vir Sela gegee sodat hulle twee kon trou nie.Tamar trek toe haar weduwee-klere uit en maak haar gesig toe met ’n sluier. Sy het haar vermom en gaan sit by die stad Enajim se poort langs die pad wat na Timna gaan.
15 Toe Juda haar sien, het hy gedink dat sy ’n prostituut is, want sy het haar gesig toegemaak met ’n sluier.
16 Hy het by haar gestop en vir haar gesê: “Kom, ek wil asseblief seks hê met jou.”Hy het nie geweet dat dit sy skoondogter is nie. Tamar vra toe vir hom: “Wat sal jy my betaal?”