7 Hy vra toe vir die amptenare: “Hoekom lyk julle vandag so bekommerd?”
8 Hulle het vir hom gesê: “Ons altwee het gedroom, en daar is niemand wat vir ons kan sê wat ons drome beteken nie.”Josef het vir hulle gesê: “Net God kan sê wat drome beteken. Vertel vir my wat julle gedroom het.”
9 Die hoof van die skinkers vertel toe sy droom vir Josef en hy sê: “Ek het gedroom ek sien ’n wingerdstok voor my.
10 Daar was drie ranke aan die wingerdstok. Daar het knoppies op die ranke gekom, dit het bloeisels geword en baie gou was daar trosse ryp druiwekorrels.
11 Ek het die farao se beker in my hand gehou, en ek het van die druiwe geneem en dit uitgedruk in die farao se beker. Toe het ek die beker vir die farao gegee.”
12 Josef sê toe vir hom: “Ek sal vir jou sê wat jou droom beteken: Die drie ranke beteken drie dae.
13 Oor drie dae sal die farao aan jou dink en hy sal jou werk vir jou teruggee. Jy sal weer die farao se wyn skink en sy beker vir hom gee soos voorheen toe jy sy skinker was.