14 Toe Juda en sy broers by Josef se huis aankom, was Josef nog daar. Hulle het voor hom gaan lê met hulle gesigte teen die grond.
15 Josef vra toe vir hulle: “Wat het julle gedoen? Julle wéét dat ’n man soos ek vooruit moet kan sê wat later sal gebeur.”
16 Juda het vir hom geantwoord: “Wat kan ons vir Meneer sê? Wat kan ons praat en hoe kan ons bewys dat ons onskuldig is? God het gewys dat ons skuldig is. Hier is ons nou, ons is Meneer se slawe, ons en ook die een by wie die beker was.”
17 Josef sê toe: “Ek sal dit nooit doen nie. Die man by wie die beker was, hý moet my slaaf word. Julle ander mag teruggaan na julle pa toe.”
18 Juda het nader gekom na Josef toe en hy het vir hom gesê: “Asseblief, Meneer, mag ek alleen met Meneer praat? Moenie kwaad word vir my nie, want jy is soos die farao.
19 Toe ons die eerste maal hier was, het Meneer vir ons gevra of ons ’n pa en nog ’n broer het.
20 En ons het vir Meneer gesê ons het ’n pa wat al oud is en ons het nog ’n broer. Hy is die jongste. Hy is gebore toe ons pa al oud was en hy het ’n ander ma as ons. Haar ander seun is dood, en ons jongste broer het alleen oorgebly. Sy pa is baie lief vir hom.