12 Josef het vir sy pa en sy broers en hulle kinders, vir sy hele familie, kos gegee.
13 Daar was baie min kos in die hele land, die hongersnood was baie swaar. Al die mense in Egipte en Kanaän het honger gely.
14 Josef het koring aan die mense van Egipte en Kanaän verkoop, en hy het al die geld gekry wat die mense gehad het. Hy het die geld na die farao se huis geneem.
15 Toe daar nie meer geld oor was in Egipte en Kanaän nie, het die mense van Egipte na Josef toe gekom en vir hom gesê: “Gee asseblief vir ons kos. Ons het nie meer geld nie. As Meneer nie vir ons kos gee nie, dan sal ons hier by jou sterf.”
16 Josef het gesê: “As julle geld op is, bring julle diere vir my, dan kan ons ruil. Gee vir my julle diere, dan sal ek vir julle kos gee.”
17 Hulle het toe hulle diere vir Josef gebring en Josef het vir hulle kos gegee. Hy het dit geruil vir hulle perde, skape, bokke, beeste en donkies. Hy het daardie jaar vir hulle kos gegee. Hy het dit geruil vir hulle diere.
18 Die volgende jaar het hulle weer na Josef toe gekom en vir hom gesê: “Meneer, jy weet dat al ons geld op is en dat al ons diere nou aan Meneer behoort. Ons het niks oor om vir Meneer te gee nie. Ons het net ons lewe en ons grond, dit is al wat ons het.