16 Josef het gesê: “As julle geld op is, bring julle diere vir my, dan kan ons ruil. Gee vir my julle diere, dan sal ek vir julle kos gee.”
17 Hulle het toe hulle diere vir Josef gebring en Josef het vir hulle kos gegee. Hy het dit geruil vir hulle perde, skape, bokke, beeste en donkies. Hy het daardie jaar vir hulle kos gegee. Hy het dit geruil vir hulle diere.
18 Die volgende jaar het hulle weer na Josef toe gekom en vir hom gesê: “Meneer, jy weet dat al ons geld op is en dat al ons diere nou aan Meneer behoort. Ons het niks oor om vir Meneer te gee nie. Ons het net ons lewe en ons grond, dit is al wat ons het.
19 Hoekom moet ons hier by Meneer sterf? Hier is ons en ons grond. Vat ons en ons grond en gee vir ons kos. Ons sal die farao se slawe wees, en ons grond sal aan hom behoort. Gee vir ons kos sodat ons kan lewe, want as ons dood is, dan sal niemand op ons grond kan werk en saai nie.”
20 Josef het al die grond in Egipte vir die farao gekoop. Almal in Egipte moes hulle grond verkoop omdat hulle nie kos gehad het om te eet nie. So het dit gebeur dat die hele land die farao se grond geword het.
21 Al die mense in die hele land het die farao se slawe geword, en hy het hulle in stede laat woon.
22 Josef het al die grond gekoop, maar nie die grond van die priesters nie, want die farao het altyd vir die priesters betaal en vir hulle kos gegee. Daarom het die priesters nie hulle grond verkoop nie.