10 Ek maak ook ’n verbond met alles wat lewe, alles wat saam met julle uit die ark gekom het, die voëls, die mak diere en die wilde diere.
11 Ek belowe vir julle: Daar sal nooit weer ’n watervloed wees wat die aarde sal verwoes en al die mense en diere sal doodmaak nie.”
12 God het ook gesê: “Ek gee vir julle ’n teken om te wys dat Ek ’n verbond met julle gemaak het. Ek het dit belowe, en dit sal altyd waar wees.
13 Ek maak my reënboog in die wolke. Die reënboog sal ’n teken wees om te wys dat Ek ’n verbond met julle gemaak het.
14 Wanneer Ek wolke oor die aarde stuur, en die reënboog is in die wolke,
15 dan sal Ek onthou dat Ek ’n verbond gemaak het met julle en met al die diere. Ek het belowe dat daar nie weer ’n watervloed sal wees wat al die mense en diere sal doodmaak nie.
16 Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, dan sal Ek daaraan dink dat Ek ’n verbond gemaak het met almal op die aarde, ’n verbond wat vir altyd sal wees.”