2 Die mense van Jerusalem het toe baie bang geword, want Gibeon was ’n groot stad. Dit was soos die stad van ’n koning, dit was groter as die stad Ai, en al die manne van Gibeon kon goed oorlog maak.
3 Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het ’n boodskap gestuur na koning Hoham van die stad Hebron, koning Piram van die stad Jarmut, koning Jafia van die stad Lakis en koning Debir van die stad Eglon. Hy het gevra:
4 “Julle moet my kom help, ons moet Gibeon aanval, want daardie mense het vrede gemaak met Josua en die Israeliete.”
5 Die vyf konings van die Amoriete het toe bymekaargekom, dit was die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon. Hulle en hulle leërs het hulle tente opgeslaan by Gibeon en hulle het begin om oorlog te maak teen die stad.
6 Die mense van Gibeon het toe ’n boodskap gestuur na Josua in die kamp by Gilgal en hulle het gevra: “Jy moenie vir ons los nie, jy moet gou na ons toe kom en jy moet ons red en help, want al die konings van die Amoriete wat in die berge woon, het bymekaargekom om teen ons oorlog te maak.”
7 Josua het van Gilgal gegaan en al die manne wat kon oorlog maak, het saam met hom gegaan, almal wat goed kon veg.
8 Die Here het vir Josua gesê: “Jy moenie bang wees vir hulle nie, want Ek sal jou laat wen teen hulle, nie een van hulle sal iets teen jou kan doen nie.”