1 Koning Jabin van Hasor het gehoor wat gebeur het. Hy stuur toe boodskappe na koning Jobab van die stad Madon, en na die konings van die stede Simron en Aksaf,
2 die konings in die noordelike bergland, die konings in die Jordaan-vallei suid van die Gennesaret-meer, die konings in die Laeveld en in die westelike berge van die land Dor,
3 die konings van die Kanaäniete in die ooste en die weste, die konings van die Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Jebusiete in die berge, en die Hewiete onderkant Hermon-berg in die land Mispe.
4 Die konings het almal hulle leërs gebring, dit was baie mense, so baie soos die sand langs die see. Hulle het ook baie perde en oorlogkarre gehad, dit was baie.
5 Al daardie konings het bymekaargekom en hulle het hulle tente opgeslaan by die Merom-rivier, hulle wou oorlog maak teen die Israeliete.
6 Die Here het vir Josua gesê: “Jy moenie bang wees vir hulle nie, want môre hierdie selfde tyd sal Ek die Israeliete laat wen teen hulle. Hulle sal almal sterf in die oorlog. Jy moet hulle perde se hakskene sny en jy moet hulle oorlogkarre verbrand.”
7 Josua en al die soldate by hom het die vyande gesien by die Merom-rivier en hulle het die vyande aangeval. Die vyande het dit nog nie verwag nie.
8 Die Here het die Israeliete laat wen teen die vyande. Die Israeliete het hulle oorwin en hulle het die vyande gevolg en gejaag tot by die stad Groot-Sidon en tot by die stad Misrefot-Majim en tot by die Mispe-vallei in die ooste. Die Israeliete het al die vyande doodgemaak, nie een het aangehou lewe nie.
9 Josua het met die vyande gedoen soos die Here vir hom gesê het. Hy het hulle perde se hakskene gesny en hy het hulle oorlogkarre verbrand.
10 Josua het toe na die stad Hasor gegaan. Hy het die stad oorwin en hy het die koning doodgemaak, want Hasor was voorheen die belangrikste stad van al die stede wat konings gehad het.
11 Die Israeliete het al die mense in die stad doodgemaak. Josua het gesê daardie mense is gewy aan die Here, nie een het aangehou lewe nie, en toe het hy die stad verbrand.
12 Josua het al die stede van daardie konings oorwin, en hy het die konings en die mense almal doodgemaak, hy het gedoen soos Moses, die dienaar van die Here, gesê het.
13 Maar die Israeliete het nie die stede verbrand wat op heuwels gestaan het nie, Josua het net die stad Hasor verbrand.
14 Die Israeliete het al die goed in die stede en al die diere vir hulleself gevat, maar hulle het al die mense doodgemaak, hulle het niemand laat aanhou lewe nie.
15 Die Here het voorheen vir Moses gesê wat hy moet doen, en Moses het vir Josua gesê om dit te doen. Josua het alles gedoen wat die Here vir Moses gesê het.
16 Josua het hierdie hele land gevat, die berge en die hele Suid-land en die hele land Gosen en die Laeveld en die Jordaan-vallei en die Israel-berge en die Laeveld daar naby.
17 Dit was die land van die Galak-berg naby die land Seïr tot by die stad Baäl-Gad in die Libanon-vallei suid van Hermon-berg. Josua het al die konings oorwin en hy het hulle doodgemaak.
18 Josua het lank oorlog gemaak teen al daardie konings.
19 Die mense in die stede het nie vrede gemaak met Josua nie. Die Israeliete het al die stede oorwin in die oorlog. Net die Hewiete in die stad Gibeon het vrede gemaak met die Israeliete.
20 Die Here self het daardie konings hardkoppig gemaak sodat hulle oorlog wou maak teen die Israeliete. Die Here wou hê dat die Israeliete nie jammer moes wees vir die mense nie, Hy wou hê dat die Israeliete almal moes doodmaak, soos Hy vir Moses gesê het.
21 Josua het in daardie tyd ook die Enak-mense almal doodgemaak. Die Enak-mense het gewoon in die berge van Hebron, in die stad Debir en die stad Anab, en in al die berge van Juda en Israel. Josua het gesê die mense en hulle stede is gewy aan die Here, en hy het hulle doodgemaak en die stede verwoes.
22 Daar het nie Enak-mense oorgebly in die land Israel nie, net in die stede Gasa, Gat, Askelon en Asdod was daar nog Enak-mense.
23 Josua het die hele land oorwin en gevat, hy het alles gedoen wat die Here voorheen vir Moses gesê het. Josua het die land vir die Israeliete gegee, elke stam het ’n deel van die land gekry. Daar was toe nie meer oorlog in die land nie.