1 Die hele volksvergadering van die Israeliete het in die stad Silo bymekaargekom en hulle het die tent daar opgeslaan, die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hulle het die hele land klaar oorwin,
2 maar sewe van die stamme van die Israeliete het nog nie hulle eie grond gekry nie.
3 Josua het vir die Israeliete gevra: “Hoe lank wil julle nog wag voordat julle die land gaan vat wat die Here, die God van ons voorvaders, vir julle gegee het?
4 Julle moet drie persone van elke stam bring sodat ek hulle kan stuur om deur die land te gaan en om elke deel van die land op te skryf en dit vir my te bring.
5 Julle moet die land deel in sewe dele. Die stam Juda moet op hulle grond in die suide bly en die nageslag van Josef moet op hulle grond in die noorde bly.