7 Die Levi-stam kry nie ’n deel van die land saam met julle nie, want hulle deel is om priesters van die Here te wees. En die stamme Gad en Ruben en die halwe Manasse-stam het klaar hulle grond gekry oos van die Jordaan-rivier. Moses, die dienaar van die Here, het daardie grond vir hulle gegee.”
8 Die manne wat moes gaan opskryf waar die verskillende dele van die land is, het dadelik gegaan. Josua het vir hulle gesê: “Julle moet deur die land gaan en julle moet die plekke opskryf en dit vir my bring. Dan sal ek hier voor die Here in die stad Silo vir julle die lootjies trek.”
9 Die manne het deur die land gegaan en hulle het die stede in die sewe dele opgeskryf in ’n boek, en daarna het hulle teruggekom na Josua toe in die kamp by die stad Silo.
10 Josua het toe in die tempel by Silo die lootjies getrek en hy het die land verdeel tussen die stamme van die Israeliete.
11 Toe Josua die eerste lootjie trek, het die Benjamin-stam hulle grond gekry tussen die grond van die mense van Juda en die grond van die nageslag van Josef.
12 Die noordgrens begin by die Jordaan-rivier en dan gaan dit noord van die stad Jerigo op teen die berge na die westekant en dit gaan tot in die woestyn van Bet-Awen.
13 Van daar gaan die grens na die stad Lus, na Bet-El suid van Lus, en dan af na die stad Atrot-Addar op die berg suid van die stad Bet-Goron-Onder.