17 Toe die Israeliete verder gaan, het hulle op die derde dag by die stede van die Gibeon-mense gekom. Die stede was Gibeon, Kefira, Beërot en Kirjat-Jearim.
18 Maar die Israeliete het nie die Gibeon-mense doodgemaak nie, want die leiers van die volksvergadering het belowe dat hulle dit nie sal doen nie, en hulle het gesê die Here, die God van Israel, is die getuie. Die hele volksvergadering het hulle leiers beskuldig,
19 maar al die leiers het vir hulle gesê: “Ons het self vir hulle belowe dat ons hulle nie sal doodmaak nie en ons het gesê die Here, die God van Israel, is die getuie. Daarom kan ons hulle nie nou aanval nie.
20 Ons moet doen wat ons belowe het, ons moet hulle laat lewe. As ons dit nie doen nie, dan sal die Here kwaad word vir ons, want ons het belowe en ons het gesê Hy is die getuie.”
21 Die leiers het vir die Israeliete gesê hulle moet die Gibeon-mense laat lewe, maar die Gibeon-mense moes van toe af hout kap en water skep vir al die Israeliete. Die leiers het vir hulle gesê hulle moet dit doen.
22 Josua het die Gibeon-mense geroep en hy het vir hulle gesê: “Julle woon hier naby ons. Hoekom het julle ons bedrieg? Hoekom het julle vir ons gesê julle woon baie ver van ons?
23 Daarom vervloek ek julle nou. Julle sal altyd slawe moet wees, julle sal die hout moet kap en die water moet skep vir die tempel van my God.”