9 Hulle het vir hom gesê: “Ons kom van ’n baie ver land. Maar ons het die Naam van jou God die Here gehoor, en ons het gehoor van alles wat Hy in Egipte gedoen het.
10 Ons het ook gehoor van alles wat Hy gedoen het aan die twee konings van die Amoriete oos van die Jordaan-rivier: koning Sihon van Gesbon en koning Og van Basan. Og het in Astarot gewoon.
11 Ons leiers en al die mense in ons land het vir ons gesê: ‘Julle moet padkos saamneem en julle moet na die Israeliete toe gaan en vir hulle sê: “Ons wil vir julle werk, daarom moet julle ’n ooreenkoms maak met ons.” ’
12 Kyk ons brood, dit was warm toe ons dit uit ons huise saamgeneem het en na julle toe gekom het, en kyk, nou is dit droë krummels.
13 Hierdie wynsakke was nuut toe ons hulle volgemaak het, en kyk, hulle het gebars. En hier is ons klere en ons sandale, hulle het oud geword op die lang pad waar ons geloop het.”
14 Die Israeliete het van die padkos geëet, maar hulle het nie vir die Here gevra wat hulle vir die boodskappers moet sê nie.
15 Josua het vrede gemaak met die Gibeon-mense. Hy het ’n ooreenkoms gemaak met hulle en gesê dat hy hulle nie sal doodmaak nie. Die leiers van die volksvergadering het dit belowe en hulle het gesê die Here is die getuie.