14 Hy moet dan van die bul se bloed neem en hy moet dit met sy vinger spat teen die voorkant van die deksel. Hy moet sewe maal van die bloed teen die deksel spat.
15 Daarna moet Aäron die bok slag wat ’n sonde-offer vir die volk is. Hy moet die bloed van die bok neem na agter die gordyn, en hy moet dieselfde doen met die bok se bloed soos hy gedoen het met die bul se bloed. Hy moet die bloed spat teen die voorkant van die deksel.
16 So moet Aäron versoening doen in die gewyde kamer, want die Israeliete is onrein en hulle het verkeerd gedoen. Hy moet versoening doen vir al hulle sondes, en hy moet dit ook doen vir die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn, want dit is die tent wat by hulle bly, by hulle wat onrein is.
17 In die tyd wanneer Aäron inkom om versoening te doen in die gewyde kamer en totdat hy weer uitgaan, mag daar niemand anders wees in die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn nie. Aäron moet versoening doen vir homself en vir sy huisgesin en vir die hele volk Israel.
18 Daarna moet hy uitgaan na die altaar wat voor die Here is en hy moet daarop versoening doen. Hy moet van die bul en die bok se bloed neem en hy moet dit smeer aan die horings van die altaar.
19 Hy moet sewe maal van die bloed teen die altaar spat. So moet hy die altaar reinig en so moet hy die altaar wy.
20 Wanneer hy klaar versoening gedoen het vir die gewyde kamer en vir die tent en die altaar, dan moet hy die bok wat nog lewe, nader bring.