3 Hy mag ook raak aan die lyk van sy suster as sy nog ’n jongmeisie is, maar as sy getroud is, sal hy onrein word as hy aan haar lyk raak.
4 Hy mag nie aan die lyke van sy skoonfamilie raak nie, hy sal onrein word en dit sal hom ontwy.
5 “Priesters mag nie die hare langs die kante van hulle kop en hulle baard afskeer as hulle wil rou nie, en hulle mag nie hulle vel stukkend sny nie.
6 “Die priesters moet aan hulle God gewy wees. Hulle mag nie die Naam van hulle God ontwy nie, want hulle moet die vuur-offers van die Here offer. Dit is die kos vir hulle God, en hulle moet gewyd wees wanneer hulle dit offer.
7 “’n Priester mag nie trou met ’n vrou wat ’n prostituut is nie, of met ’n vrou wat voorheen seks gehad het met ’n man, of met ’n vrou wat geskei is van haar man nie. Want die priester is aan sy God gewy.
8 Israeliete, julle moet altyd onthou dat die priester gewyd is, want hy offer die kos van julle God. Die priester moet altyd vir julle gewyd bly, want Ek, die Here, is heilig, en Ek wy julle aan My.
9 “As ’n priester se dogter haarself ontwy en sy word ’n prostituut, dan het sy ook haar pa ontwy. Julle moet haar verbrand.