4 Of iemand dink miskien nie goed wat hy sê nie en hy belowe iets en hy sê die Here is die getuie. Hy belowe iets wat goed is of iets wat sleg is, mense doen dit partymaal wanneer hulle nie goed dink nie. Die persoon weet nie dat hy verkeerd gedoen het nie, maar wanneer hy later besef wat hy gedoen het, dan is hy skuldig.
5 Wanneer hy besef dat hy skuldig is omdat hy een van hierdie dinge gedoen het, dan moet hy bely dat hy sonde gedoen het
6 en hy moet vir die Here ’n skuld-offer bring vir die sonde wat hy gedoen het. Dit moet ’n ooi wees, ’n skaap-ooi of ’n bok-ooi om ’n sonde-offer te wees. Die priester moet vir die persoon versoening doen vir sy sonde.
7 As die persoon nie ’n skaap of ’n bok het nie, dan kan hy twee tortelduiwe of twee ander duiwe bring om ’n skuld-offer vir sy sonde te wees, een duif is om ’n sonde-offer te wees en een duif is om ’n brand-offer te wees.
8 Hy moet die duiwe na die priester toe bring, en die priester moet eerste die duif offer wat ’n sonde-offer moet wees. Die priester moet die duif se nek omdraai, maar hy moenie die kop aftrek nie.
9 Dan moet hy ’n bietjie van die duif se bloed teen die kante van die altaar spat en hy moet die bloed wat oorbly, uitdruk teen die onderkant van die altaar. Dit is die sonde-offer.
10 Die priester moet die tweede duif offer soos hy altyd ’n brand-offer offer. Die priester doen so versoening vir die persoon, en die Here sal sy sonde vergewe.