1 Hierdie is die dinge wat Nehemia gesê en gedoen het. Nehemia was ’n seun van Gakalja.Dit was in die maand Kislef in die twintigste jaar. Ek was in die stad Susan, ’n stad wat sterk mure het.
2 Een van my broers, Ganani, het daar aangekom, hy en ander manne uit die land Juda. Ek het vir hulle gevra hoe dit gaan met die Judeërs wat nog lewe en wat voorheen gevangenes in Babel was maar wat teruggegaan het na Jerusalem. Ek het ook vir hulle gevra hoe die stad Jerusalem nou lyk.
3 Hulle het vir my gesê: “Dit gaan baie sleg met die mense wat nog lewe en wat teruggegaan het uit Babel waar hulle gevangenes was. Vyande het die muur van Jerusalem afgebreek en sy poorte verbrand.”
4 Toe ek dit hoor, het ek gaan sit en huil. Ek het ’n paar dae lank gehuil en getreur, ek het niks geëet nie en ek het gebid tot die God van die hemel.
5 Ek het gesê: “Ag, Here, God van die hemel, U is die Groot God, almal is bang vir U. U doen wat u verbond sê en U doen wat U belowe het vir almal wat lief is vir U en wat doen wat U wil hê.
6 Luister asseblief wat ek bid en kyk na my, u dienaar. Ek bid nou elke dag en elke nag vir u dienaars, die mense van Israel. Ek bely dat die Israeliete sonde gedoen het teen U. Ek en my familie het ook sonde gedoen.