1 Ek het die muur klaar gebou. Daar het nie een stukkende plek oorgebly nie, maar ek het nog nie deure in die poorte gesit nie. Party mense het dit vertel vir Sanballat en Tobija en vir die Arabier Gesem en ons ander vyande.
2 Toe het Sanballat en Gesem vir my ’n boodskap gestuur en gesê ons moet mekaar ontmoet in die stad Kefirim in die Ono-vallei. Hulle wou iets sleg doen aan my.
3 Ek het boodskappers na hulle toe gestuur om vir hulle te sê: “Ek doen ’n belangrike werk, ek kan nie kom nie. Hoekom moet die werk stop? Hoekom moet ek dit los en na julle toe kom?”
4 Hulle het vier maal dieselfde boodskap vir my gestuur, en ek het dieselfde antwoord vir hulle teruggestuur.
5 Sanballat het die vyfde maal dieselfde boodskap gestuur, maar toe het sy boodskapper ’n oop brief in sy hand gehad.
6 In die brief was geskryf: “Mense vertel tussen die volke dat die Judeërs opstandig wil word teen die koning, en Gasmu sê dit is waar. Hulle sê dit is hoekom jy die muur bou. Hulle sê dat jy self die koning van die Judeërs wil word.
7 Hulle sê ook dat jy profete gekies en aangestel het om in Jerusalem te skree en te sê: ‘Nehemia is nou koning in Juda!’ Ek wil hê jy moet weet dat die koning hiervan sal hoor. Daarom moet jy kom sodat ons daaroor kan praat.”
8 Ek het vir hom laat weet: “Jy praat nie die waarheid nie. Nee, jy het self hierdie storie gemaak.”
9 Ja, hulle almal wou ons laat skrik, hulle het gedink ons sal moedeloos word, en die werk sal nie klaarkom nie. Daarom het ek gebid dat ek sterk sal bly.
10 Ek het gegaan na die huis van Semaja seun van Delaja seun van Mehetabel. Hy kon nie uit sy huis kom nie. Hy het vir my gesê: “Ons moet mekaar in die tempel ontmoet, binne-in die gebou. Dan sluit ons die deure, want daar is mense wat jou wil kom doodmaak. Hulle wil dit vannag doen.”
11 Ek het vir hom gesê: “Moet ’n man soos ek vlug? En moet iemand soos ek in die tempel gaan wegkruip om te bly lewe? Nee, ek sal nie gaan nie.”
12 Ek het besef dat God nie vir Semaja gestuur het nie. Semaja het gesê hy het ’n boodskap van God vir my gebring, maar dit was Tobija en Sanballat wat hom betaal het om dit te doen.
13 Hulle het hom betaal om dit vir my te sê. Semaja wou hê dat ek moet skrik en moet doen wat hy sê. As ek in die tempel ingegaan het, dan het ek sonde gedoen en dan het almal sleg gepraat van my.
14 Ek het gebid en gesê: “My God, U moet onthou wat Tobija en Sanballat gedoen het. U moet ook onthou hoe die profeet Noadja en die ander profete probeer het om my bang te maak.”
15 Ons het die muur klaar gebou op die 25ste dag van die maand Elul. Ons het 52 dae lank gewerk.
16 Toe al ons vyande en die mense van al die volke rondom ons dit sien, het hulle moedeloos geword, want hulle het geweet dat God ons gehelp het om hierdie werk klaar te maak.
17 In daardie tyd het Tobija en die belangrike mense van Juda baie briewe vir mekaar gestuur,
18 want baie mense in Juda was familie van Tobija. Hy was ’n skoonseun van Sekanja seun van Arag, en sy seun Jonatan was getroud met ’n dogter van Mesullam seun van Berekja.
19 Hulle het aangehou om vir my te sê dat Tobija ’n baie goeie man is, en hulle het vir hom alles vertel wat ek gesê het. Hy het self ook vir my ’n brief geskryf om my bang te maak.