25 Regum, Gasabna, Maäseja,
26 Agija, Ganan, Anan,
27 Malluk, Garim en Baäna.
28-29 Die ander mense het saam met mekaar en saam met hulle leiers belowe dat hulle sal doen wat die wette van God sê, die wette wat Moses, die dienaar van God, vir die volk gegee het. Hulle het gesê dat God hulle kan doodmaak as hulle nie gehoorsaam is aan al die gebooie van die Here, ons Here, nie, as hulle nie gehoorsaam is aan alles wat Hy besluit het en gesê het nie. Hierdie mense was die priesters, die Leviete, die poortwagte, die mense wat moes sing, die tempel-slawe, almal wat apart gegaan het, weg van die ander volke in die land. Hulle het weggegaan sodat hulle kan doen wat die wette van God sê. Hulle vroue, hulle kinders en almal wat kon verstaan, het ook saam met hulle gegaan.
30 Hulle het gesê:“Ons sal ons kinders nie laat trou met die kinders van die ander mense in die land nie.
31 “Wanneer die ander mense op die Sabbatdag goed of koring bring om te verkoop, dan sal ons dit nie van hulle koop nie, nie op die Sabbatdag of op ’n ander gewyde dag nie.“In die sewende jaar sal ons nie ons lande ploeg of saai nie en ons sal sê mense moenie betaal wat hulle vir ons skuld nie.
32 “Ons besluit dat elkeen van ons elke jaar een derde van ’n sikkel goud sal gee vir die werk in die tempel van ons God.