30 Hulle het gesê:“Ons sal ons kinders nie laat trou met die kinders van die ander mense in die land nie.
31 “Wanneer die ander mense op die Sabbatdag goed of koring bring om te verkoop, dan sal ons dit nie van hulle koop nie, nie op die Sabbatdag of op ’n ander gewyde dag nie.“In die sewende jaar sal ons nie ons lande ploeg of saai nie en ons sal sê mense moenie betaal wat hulle vir ons skuld nie.
32 “Ons besluit dat elkeen van ons elke jaar een derde van ’n sikkel goud sal gee vir die werk in die tempel van ons God.
33 Hierdie geld is om te betaal vir die offer-brood, die koring-offer en die brand-offer elke dag, vir die offers op die Sabbatdag, die Nuwemaan-feeste en die ander feeste, en vir die gewyde presente en die sonde-offers. Die priesters moet daarmee versoening doen vir die volk. Hulle sal al die ander werk in die tempel van ons God ook met daardie geld betaal.
34 “Ons priesters, ons Leviete en die ander mense het lootjies getrek om te sien watter familie elke jaar op die regte tyd die hout moet bring om op die altaar van ons God die Here aan die brand te steek. Hulle moet dit doen soos die wette sê.
35 “Ons sal elke jaar die eerste koring en gars wat ons afsny, na die tempel bring, en ook die eerste vrugte wat ons pluk.
36 “Ons sal ons oudste seuns en die eerste kalwers en lammers van ons diere, van ons beeste, ons skape en ons bokke, na die priesters toe bring wat in die tempel werk. Ons sal dit doen soos die wette sê.