33 Hierdie geld is om te betaal vir die offer-brood, die koring-offer en die brand-offer elke dag, vir die offers op die Sabbatdag, die Nuwemaan-feeste en die ander feeste, en vir die gewyde presente en die sonde-offers. Die priesters moet daarmee versoening doen vir die volk. Hulle sal al die ander werk in die tempel van ons God ook met daardie geld betaal.
34 “Ons priesters, ons Leviete en die ander mense het lootjies getrek om te sien watter familie elke jaar op die regte tyd die hout moet bring om op die altaar van ons God die Here aan die brand te steek. Hulle moet dit doen soos die wette sê.
35 “Ons sal elke jaar die eerste koring en gars wat ons afsny, na die tempel bring, en ook die eerste vrugte wat ons pluk.
36 “Ons sal ons oudste seuns en die eerste kalwers en lammers van ons diere, van ons beeste, ons skape en ons bokke, na die priesters toe bring wat in die tempel werk. Ons sal dit doen soos die wette sê.
37 “Ons sal die eerste deeg wat ons knie nadat ons die koring afgesny het, na die priesters toe bring, en ook ons presente en vrugte van elke boom, en wyn en olyf-olie. Ons sal dit bring na die kamers by die tempel van ons God, en ons sal die tiende van al ons koring vir die Leviete gee. Die Leviete sal die tiendes bymekaarmaak in al die stede waar ons werk.
38 Die priester uit die nageslag van Aäron sal saam met die Leviete gaan wanneer hulle die tiendes bymekaarmaak. Die Leviete sal een tiende van die tiendes na die tempel van ons God bring. Hulle sal dit in die stoorkamers sit.
39 “Ja, die Israeliete en die Leviete sal presente na die stoorkamers bring. Die presente is koring, wyn en olyf-olie. Die priesters bêre die gereedskap vir die tempel daar, want hulle werk daar en die poortwagte en die mense wat moet sing, is ook daar.“Ons sal alles doen wat nodig is vir die tempel van ons God.”