13 Ek het mense gekies en aangestel oor die stoorkamers. Hulle moes die tiendes verdeel tussen die Leviete. Dit was die priester Selemja en die sekretaris Sadok en die Leviet Pedaja. Ganan seun van Sakkur seun van Mattanja moes hulle help. Ek het geweet hulle sal die werk goed doen.
14 Ek het gebid en gesê: “My God, U moet onthou wat ek gedoen het. Ek het gedoen wat ek moes doen vir die tempel van my God en vir die werk daar, U moenie dit vergeet nie.”
15 Ek het in daardie tyd in Juda gesien dat mense op die Sabbatdag werk. Hulle het die parskuipe getrap en ander mense het vragte koring op donkies gelaai en ook wyn en druiwe en vye en ander goed. Hulle het dit in Jerusalem ingebring op die Sabbatdag. Ek het vir hulle gesê hulle mag nie op die Sabbatdag goed verkoop nie.
16 Daar het ook mense van Tirus gewoon in Jerusalem, en hulle het vis en ander goed op die Sabbatdag verkoop aan die mense van Juda en Jerusalem.
17 Ek het geraas met die leiers van Juda en vir hulle gesê: “Hoekom doen julle hierdie verkeerde ding? Julle ontwy die Sabbatdag.
18 Julle voorvaders het dit ook gedoen, en ons God het al hierdie slegte dinge laat gebeur met ons en met die stad. Julle maak Hom nog meer kwaad wanneer julle die Sabbatdag ontwy.”
19 Ek het toe dít gedoen: Ek het gesê hulle moet die poorte van Jerusalem sluit wanneer die Sabbatdag begin, en hulle moenie die poorte oopmaak voordat die Sabbatdag verby is nie. Ek het party van my manne by die poorte laat staan om te kyk dat daar nie goed inkom op die Sabbatdag nie.