20 Die handelaars en die ander mense wat goed verkoop, het toe een of twee aande buite teen die muur van die stad geslaap.
21 Ek het hulle gewaarsku en gesê: “Hoekom slaap julle hier teen die muur? As julle dit weer doen, dan sal ek julle straf.”Hulle het toe nie weer op die Sabbatdag gekom nie.
22 Ek het vir die Leviete gesê hulle moet hulleself reinig en by die poorte kom wagstaan, sodat die Sabbatdag ’n gewyde dag sal wees. Ek het gebid en gesê: “My God, U moet dit ook onthou, U moet goed wees vir my, U is altyd goed vir mense wat aan U behoort.”
23 Ek het ook in daardie tyd gesien dat party Judeërs vroue gehad het wat uit die stad Asdod gekom het of wat Ammoniete of Moabiete was.
24 Party van hulle kinders het die taal van Asdod gepraat en die ander kinders het die tale van ander volke gepraat. Nie een kind kon die Judese taal praat nie.
25 Ek het met daardie Judeërs geraas. Ek het hulle vervloek en hulle geslaan en hulle hare uitgetrek. Ek het gesê hulle moet belowe dat hulle nie hulle dogters sal laat trou met die seuns van die heidene nie en dat hulle nie hulle seuns sal laat trou met die dogters van die heidene nie. Hulle moes ook belowe om nie self met die heidene te trou nie, en ek het gesê God is die getuie.
26 Ek het vir hulle gesê: “Koning Salomo van Israel het ook sonde gedoen toe hy getrou het met vroue wat nie Israeliete is nie. Ja, daar is nie ’n volk wat ’n beter koning gehad het as hy nie. God was lief vir hom en God het hom koning laat word oor die hele Israel, maar sy vroue wat nie Israeliete was nie, het hom sonde laat doen.