1 Die beker wyn was voor die koning, en ek het dit opgetel en vir hom gegee. Dit was in die maand Nisan, in die twintigste jaar nadat Artasasta koning geword het. Ek het nooit voorheen vir die koning gewys dat ek sleg voel nie.
2 Maar daardie dag het die koning vir my gesê: “Ek kan sien jy voel sleg. Is jy siek? Of is jy hartseer?”Ek was baie bang,
3 maar ek het vir die koning gesê: “Ek bid dat die koning lank sal lewe! Ek ís hartseer, ek kan nie anders voel nie, want vyande het die stad verwoes waar my voorvaders se grafte is. Hulle het die poorte verbrand.”
4 Die koning het vir my gesê: “Wil jy vir my iets vra?”Ek het gebid tot die God van die hemel
5 en ek het vir die koning gesê: “As dit vir die koning goed is en as die koning goed wil wees vir my, jou amptenaar, dan moet jy my stuur na die stad waar die grafte van my voorvaders is, sodat ek die stad weer kan bou.”
6 Toe vra die koning vir my: “Hoe lank sal jy loop om daar te kom? En wanneer sal jy terugkom?”Die koningin het langs die koning gesit. Die koning het besluit om my te stuur. Ek het vir hom gesê hoe lank ek weg sal wees
7 en ek het vir hom gevra: “As die koning dink dit is goed, dan moet jy vir my ’n brief gee om vir die goewerneurs in die provinsie Wes-Eufraat te gee, sodat hulle my sal laat verbygaan om in die provinsie Juda te kom.