14 Ek het verder gegaan na die Fontein-poort en die Koning-dam. Die dier waarop ek gery het, kon nie daar verbykom nie.
15 Ek het toe in die nag in die vallei opgegaan en gekyk hoe lyk die muur. Toe het ek omgedraai en ek het deur die poort in die vallei teruggegaan in die stad.
16 Die leiers het nie geweet waarnatoe ek gegaan het en wat ek gedoen het nie. Voor daardie dag het ek niks gesê vir die Judeërs, die priesters, die belangrike mense, die leiers en die ander mense wat die werk moes doen nie.
17 Maar toe het ek vir hulle gesê: “Julle sien hoe sleg dit gaan met ons. Die vyande het Jerusalem verwoes en hulle het sy poorte verbrand. Ons moet weer die muur bou, sodat ander mense ons nie weer sal spot nie.”
18 Ek het vir hulle vertel hoe my God my gehelp het en wat die koning vir my gesê het. En hulle het gesê: “Kom, ons moet die muur bou!”En hulle het dadelik gereedgemaak om die werk te doen.
19 Maar toe Sanballat die Goroniet, en Tobija, die amptenaar by die Ammoniete, en Gesem die Arabier dit hoor, het hulle vir ons gelag en gespot en gevra: “Wat dink julle doen julle? Wil julle opstandig wees teen die koning?”
20 Ek het hulle geantwoord, ek het vir hulle gesê: “Die God van die hemel sal ons laat slaag. Ons is sy dienaars, en ons sal die muur bou. Julle mag nie saam met ons besluit wat in Jerusalem moet gebeur nie. Hier is niks wat aan julle behoort nie en julle het nooit hier gewoon nie.”