9 Die Leviete het gelees uit die boek, uit die wette van God. Hulle het verduidelik wat dit beteken sodat almal dit kon verstaan.
10 Die goewerneur Nehemia, die priester en sekretaris Esra en die Leviete wat die wette vir die mense verduidelik het, het toe vir al die mense gesê: “Hierdie dag is gewy aan julle God die Here, julle moenie huil of treur nie.”Want al die mense het gehuil toe hulle hoor wat die wette sê.
11 Die goewerneur het vir die mense gesê: “Julle moet gaan, julle moet lekker kos eet en soetgoed drink. Julle moet vir ander mense wat niks gereedgemaak het nie, ook daarvan stuur. Want hierdie dag is gewy aan ons Here. Julle moenie hartseer wees nie, julle moet bly wees daaroor dat die Here julle beskerm.”
12 Die Leviete het vir die mense gesê hulle moet stil wees en nie hartseer wees nie, want dit is ’n gewyde dag.
13 Toe het al die mense gegaan en hulle het geëet en gedrink en vir ander mense ook daarvan gestuur. Dit was ’n groot fees, want hulle het verstaan wat Esra vir hulle gelees het.
14 Die volgende dag het al die familiehoofde saam met die priesters en Leviete bymekaargekom by die sekretaris Esra om te leer wat die wette sê.
15 Hulle het gehoor dat daar in die wette geskryf is dat die Israeliete in hutte moet woon terwyl hulle die fees in die sewende maand vier. Die Here het hierdie wette vir Moses gegee.