18 U het hulle ook nie gelos toe hulle vir hulle ’n kalfbeeld gemaak het en vir U beledig het nie. Hulle het gesê die kalf is die god wat vir hulle uit die land Egipte gebring het.
19 U was goed vir hulle toe hulle swaargekry het, U het hulle nie gelos in die woestyn nie. Die wolk het daar gebly om hulle in die dag te lei op die pad, en die vuur het in die nag lig gemaak op die pad waar hulle moes gaan.
20 U het u goeie Gees vir hulle gegee om vir hulle te leer, U het aangehou om vir hulle manna te gee om te eet, en water om te drink.
21 U het 40 jaar lank vir hulle gesorg in die woestyn, hulle het genoeg gehad van alles. Hulle klere het nie stukkend geword nie en hulle voete het nie geswel nie.
22 U het vir hulle lande en volke gegee. Hulle kon alles vir hulle vat, die land Gesbon van koning Sihon, en die land Basan van koning Og.
23 U het vir hulle so baie kinders gegee soos die sterre in die lug. U het vir hulle voorvaders gesê hulle kinders sal die land vir hulle kom vat,
24 en die kinders hét die land kom vat. U het die mense van die land, die Kanaäniete, laat buig voor u volk. U volk het die Kanaäniete en hulle konings oorwin, hulle het gedoen wat hulle wil met die mense van die land.