23 U het vir hulle so baie kinders gegee soos die sterre in die lug. U het vir hulle voorvaders gesê hulle kinders sal die land vir hulle kom vat,
24 en die kinders hét die land kom vat. U het die mense van die land, die Kanaäniete, laat buig voor u volk. U volk het die Kanaäniete en hulle konings oorwin, hulle het gedoen wat hulle wil met die mense van die land.
25 Hulle het die stede oorwin wat sterk mure gehad het en hulle het die vrugbare grond vir hulle gevat. Hulle het huise gevat wat vol kosbare goed was, ook watergate wat die mense in die rots gekap het, wingerde, olyfbome en baie vrugtebome. Hulle kon eet totdat hulle genoeg gehad het, hulle het vet geword. Hulle het die goeie dinge geniet wat U gegee het.
26 “Maar hulle was hardkoppig, hulle was opstandig teen U. Hulle wou nie doen wat U wil hê nie. U profete het hulle gewaarsku en het gesê hulle moet terugkom na U toe, maar hulle het die profete doodgemaak. Hulle het vir U beledig.
27 “U het hulle vyande laat wen teen hulle, die vyande het hulle laat swaarkry. En toe hulle swaarkry, het hulle na U geroep en gevra dat U hulle moet help. U was in die hemel en U het geluister. U is altyd goed vir mense wat swaarkry. Daarom het U mense gestuur wat hulle gered het van hulle vyande.
28 Maar toe hulle al hulle vyande oorwin het, het hulle weer verkeerde dinge gedoen. U het hulle vyande laat wen teen hulle, en die vyande het oor hulle regeer. Hulle het weer na U geroep en gevra dat U hulle moet help. U was in die hemel en U het geluister, U het hulle gered, want U is goed vir mense wat swaarkry. U het dit baie maal gedoen.
29 U het hulle gewaarsku en gesê hulle moet weer doen wat U wil hê, maar hulle wou nie. Hulle wou nie doen wat U wil hê nie. Hulle het sonde gedoen teen u wette, wette wat ’n mens laat lewe het as jy doen wat die wette sê. Hulle was hardkoppig en opstandig, hulle het nie geluister nie.