24 Maar my dienaar Kaleb was anders, hy het aangehou om in My te glo. Ek sal hom na die land bring waarnatoe hy gegaan het, en die land sal aan sy nageslag behoort.
25 Die Amalekiete en die Kanaäniete woon in die lae deel van die land. Julle moet môre wegdraai en verder in die woestyn ingaan op die pad na die Riet-see.”
26 Die Here het vir Moses en Aäron gesê:
27 “Hierdie slegte volk hou aan om My te beskuldig. Ek het gehoor dat die Israeliete My beskuldig,
28 en julle moet vir hulle sê: So seker soos Ek lewe, Ek het gehoor wat julle gewens het, en dit is wat Ek sal laat gebeur:
29 Julle dooie liggame sal in hierdie woestyn lê, almal wie se name in die boek geskryf is, almal wat ouer as 20 jaar is en wat My beskuldig het.
30 Ek het belowe dat julle in daardie land sal woon, maar julle sal nie daar kom nie, net Kaleb seun van Jefunne en Josua seun van Nun sal daar kom.