12 Moses het toe vir Korag en vir Datan en Abiram, seuns van Eliab, laat roep, maar hulle het gesê: “Ons sal nie kom nie.
13 Jy het ons weggeneem uit ’n vrugbare land om ons in ’n woestyn te laat sterf. Is dit nie genoeg nie? Wil jy ons nog meer laat swaarkry?
14 Jy het ons nie na ’n vrugbare land geneem en vir ons koringlande en wingerde gegee wat aan ons kan behoort nie. Wil jy aanhou om hierdie manne te bedrieg? Ons sal nie kom nie.”
15 Moses het baie kwaad geword. Hy het vir die Here gesê: “U moenie die offers neem wat hulle vir U wil gee nie. Ek het niks van hulle gevat nie en ek het niks verkeerd gedoen aan hulle nie.”
16 Toe sê Moses vir Korag: “Môre moet jy en al jou vriende voor die Here kom staan, jy en hulle en Aäron.
17 Elkeen van julle moet ’n pan neem en wierook daarin sit en hy moet dit vir die Here bring. Elkeen moet sy eie pan hê, daar moet 250 panne wees, en jy en Aäron moet ook elkeen ’n pan hê.”
18 Die volgende oggend het elkeen toe sy pan geneem, en kole daarin gesit en wierook bo-op. Hulle het by die ingang van die tent gaan staan waar die Here aan die Israeliete verskyn. Moses en Aäron het ook daar gestaan.