22 Die ander Israeliete mag nou nie meer naby die tent kom waar Ek aan hulle verskyn nie. As een van hulle dit doen, dan doen hy verkeerd en dan moet hy sterf.
23 Die Leviete moet die werk by die tent doen, en wanneer hulle verkeerd doen, dan sal Ek hulle straf. Dit sal altyd so wees, vir julle en vir julle nageslag. Maar hulle kry nie grond tussen die ander stamme nie.
24 Die Leviete kry die tiendes wat die Israeliete vir My gee, dit is hulle s’n. Dit is hoekom Ek vir die Leviete gesê het dat hulle nie grond kry tussen die ander stamme nie.”
25 Die Here het vir Moses gesê:
26 “Jy moet vir die Leviete sê: Julle sal van die Israeliete die tiendes kry wat Ek vir julle gegee het, dit behoort aan julle. Wanneer julle dit kry, dan moet julle ’n tiende daarvan vir My gee.
27 Dit moet julle offers vir My wees, dit is dieselfde soos wanneer julle koring van die dorsvloer en wyn uit die parskuip gekry het en gegee het.
28 So sal ook júlle vir My offers bring, julle sal dit gee van al die tiendes wat julle van die Israeliete kry. En die offers wat julle vir My moet bring, moet julle vir die priester Aäron gee.