10 Die persoon wat die koei se as bymekaargemaak het, moet sy klere was en hy sal tot die aand onrein wees.“Die Israeliete en die vreemdelinge wat by hulle woon, moet altyd dit doen.
11 “Wanneer iemand aan ’n mens se dooie liggaam raak, dan sal daardie persoon sewe dae lank onrein wees.
12 Hy moet homself reinig op die derde dag en op die sewende dag, dan sal hy rein wees. Maar as hy homself nie op die derde dag en op die sewende dag reinig nie, sal hy nie rein word nie.
13 Wanneer iemand aan ’n mens se dooie liggaam raak en hy reinig homself nie, dan sal hy die Here se tempel-tent onrein laat word, en dan moet julle hom afsny van Israel. Niemand het die water oor hom gespat wat hom rein kan laat word nie, daarom bly hy onrein.
14 “Dit is wat julle moet doen wanneer iemand in ’n tent sterf: Elkeen wat in die tent kom en alles wat in die tent is, sal sewe dae lank onrein wees.
15 Elke oop pot of kruik wat nie ’n deksel op het wat iemand daar vasgebind het nie, sal onrein wees.
16 “Wanneer enige persoon buite in die veld aan die dooie liggaam raak van iemand wat in ’n oorlog gesterf het of hy raak aan iemand anders wat dood is of aan ’n dooie mens se bene of aan ’n graf, dan sal hy sewe dae lank onrein wees.