7 Die leiers van die Moabiete en die Midianiete het gegaan en hulle het die beloning saamgeneem wat waarsêers moet kry. Toe hulle by Bileam kom, het hulle vir hom gesê wat Balak gesê het.
8 Bileam het vir hulle gesê: “Julle moet vannag hier slaap, dan sal ek môre vir julle sê wat die Here vir my sê.”Die amptenare van Moab het toe daar by Bileam gebly.
9 God het na Bileam toe gekom en vir hom gevra: “Wie is hierdie mans by jou?”
10 Bileam het vir God gesê: “Balak seun van Sippor, koning van Moab, het vir my ’n boodskap gestuur en gesê:
11 ‘Hier het ’n volk uit Egipte gekom, hulle is baie, hulle is oral in die hele land. Nou moet jy kom en jy moet hulle vir my vervloek. Miskien sal ons dan teen hulle oorlog kan maak en hulle uit die land jaag.’ ”
12 God het vir Bileam gesê: “Jy moenie saam met die boodskappers gaan nie. Jy moenie die volk vervloek nie, want Ek het hulle geseën.”
13 Toe Bileam die volgende oggend opstaan, het hy vir die amptenare van Balak gesê: “Julle moet teruggaan na julle land, want die Here wil nie hê dat ek saam met julle moet gaan nie.”