16 Die Here het vir Moses gesê: “Op die veertiende dag van die eerste maand is dit die Paasfees vir die Here,
17 en op die vyftiende dag van dieselfde maand begin die fees van sewe dae wanneer julle ongesuurde brood moet eet.
18 Op die eerste dag moet julle bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle mag nie werk op daardie dag nie.
19 Julle moet vir die Here ’n vuur-offer gee. Dit is ’n brand-offer van twee bulle, een skaap-ram en sewe jaaroud ram-lammers. Dit moet gesonde diere wees.
20 Julle moet ook ’n koring-offer daarby gee. Julle moet van die beste meel gee wat julle met olyf-olie meng. Dit moet wees: drie tiendes van ’n efa meel saam met ’n bul, twee tiendes van ’n efa meel saam met die skaap-ram,
21 en een tiende van ’n efa meel saam met elke lam.
22 Julle moet ook ’n bok-ram gee om ’n sonde-offer te wees wat versoening kan doen vir julle.