13 Al die oudste seuns en al die eerste kleintjies van die mak diere is Myne. Dit is so van daardie dag af toe Ek die oudste seuns in Egipte laat sterf het. Ek het toe elke seun en elke dier wat eerste gebore is, aan My gewy, hulle is Myne, Ek is die Here.”
14 Die Here het in die Sinai-woestyn met Moses gepraat en vir hom gesê:
15 “Jy moet die name van die Leviete en die name van hulle voorvaders en families in ’n boek skryf. Jy moet die name opskryf van elke man en seun wat ’n maand of ouer is.”
16 Moses het toe die name van die Leviete opgeskryf soos die Here gesê het.
17 Hier is die name van die seuns van Levi: Gerson, Kehat en Merari.
18 Hier is die name van die Gerson-families: Libni en Simi.
19 Die Kehat-families was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël.