1 Gilead was die seun van Makir seun van Manasse, hulle was uit die nageslag van Josef. Die familiehoofde van die families uit die nageslag van Gilead het kom praat met Moses en die familiehoofde van die Israeliete.
2 Hulle het gesê: “Die Here het vir Meneer gesê jy moet lootjies trek en die land verdeel tussen die Israeliete. Die Here het ook vir Meneer gesê jy moet ons broer Selofgad se grond vir sy dogters gee.
3 Maar wanneer hulle nou trou met mans van ander stamme van Israel, dan neem hulle die grond weg van die grond van ons voorvaders en dan sit hulle dit by die grond van die stamme met wie se mans hulle trou. En dan is daardie grond nie meer by die grond wat ons gekry het nie.
4 En wanneer dit Hersteljaar word vir die Israeliete, dan sal hulle grond gaan na die grond van die stamme met wie se mans hulle getrou het, en hulle grond sal nie meer by die grond wees wat ons voorvader se stam gekry het nie.”
5 Die Here het vir Moses gesê wat hy moet doen, en Moses het vir die Israeliete gesê:
6 “Dit is wat die Here oor Selofgad se dogters gesê het: Hulle mag trou met wie hulle wil, maar hulle moet net trou met iemand in die families van die stam van hulle voorvaders.
7 Dan sal die Israeliete se grond nie gaan van een stam na ’n ander stam nie, want elke Israeliet sal die grond hou van die stam van sy voorvader.