13 “Die nasireër het homself ’n tyd lank aan die Here gewy, en hy moet gewyd bly totdat daardie tyd verby is. Hierdie is die wet vir die nasireër: Iemand bring hom na die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn,
14 en hy bring sy offer vir die Here saam. Die offer is: ’n gesonde jaaroud ram-lam om ’n brand-offer te wees, ’n gesonde jaaroud ooi-lam om ’n sonde-offer te wees, ’n gesonde skaap-ram om ’n ete-offer te wees,
15 en ook ’n mandjie ongesuurde brood wat hulle gemaak het van die beste meel, rondebrood en roosterkoek. Hy moet die rondebrood se deeg meng met olyf-olie en hy moet olyf-olie smeer aan die roosterkoek. Hy bring ook die koring-offers en die drank-offers wat saam met die ander offers moet wees.
16 Die priester bring dan die nasireër voor die Here, en die priester offer dan die sonde-offer en die brand-offer.
17 Hy offer die ram om ’n ete-offer te wees en hy offer die koring-offers en die drank-offers wat saam met die ander offers moet wees.
18 Die nasireër skeer dan sy lang hare af by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn en hy neem die lang hare en sit dit op die vuur waar hulle die ete-offer gaarmaak.
19 Wanneer die ete-offer gaar is, dan neem die priester die skouerblad van die ram en ’n rondebrood uit die mandjie, en ’n roosterkoek, en hy sit dit op die hande van die nasireër nadat hy sy hare afgeskeer het.