7 ek het slawe en slavinne gekoop, en my slawe het kinders gekry, ek het meer skape en bokke gehad as almal wat voor my in Jerusalem regeer het.
8 Ek het silwer en goud bymekaargemaak en ook die goed wat ander konings en die distrikshoofde vir my gegee het. Ek het mans en vroue gekry wat vir my sing, ek het alles gekry wat ’n mens kan geniet, ook byvroue.
9 Ek het belangriker geword as almal wat voor my oor Jerusalem regeer het, en ek het ook nie my wysheid verloor nie.
10 Ek het alles gekry wat ek wou hê, ek het alles geniet wat ek wou geniet, want alles wat ek gedoen het, was vir my lekker. Ek kon alles geniet wat ek gedoen het, dít was die beloning wat ek gekry het vir al my werk.
11 Maar toe dink ek oor alles wat ek gedoen het, ek het gedink oor al my harde werk, en wat het ek toe uitgevind? Ek het uitgevind dat niks is wat dit moet wees nie, ek het wind gejaag. Jy kan nie wen in hierdie wêreld nie.
12 Ek het gedink ek wil uitvind hoe dit is om wysheid te hê en hoe dit is om ’n dwaas te wees. Ek wou weet of die persoon wat ná my koning sal word, iets sal kan doen wat ek nie gedoen het nie.
13 Ek het uitgevind dat dit beter is om wysheid te hê as om ’n dwaas te wees, dit is dieselfde soos lig wat beter is as donker.