7 Die Here het weer met die profeet Sagaria gepraat. Dit was in die tweede jaar nadat Darius koning geword het, op die 24ste dag van die elfde maand, dit is die maand Sebat. Sagaria was die seun van Berekja en Berekja was die seun van Iddo.
8 Dit was in die nag, en die Here het vir my, Sagaria, iets gewys. Daar was ’n man wat op ’n rooi perd gesit het. Hy was tussen mirtebome in ’n diep kloof in ’n berg. Agter hom was nog mense op rooi perde en bruin perde en wit perde.
9 Daar was ’n engel by my. Hy moes vir my sê wat alles beteken. Ek het vir die engel gevra: “Meneer, hoekom is die mense en die perde hier?”Die engel het vir my gesê: “Ek sal vir jou wys hoekom hulle hier is.”
10 Die man wat tussen die mirtebome gestaan het, praat toe en sê: “Die Here het daardie mense gestuur. Hulle moet gaan kyk wat oral op die aarde gebeur.”
11 Die mense op die perde het gepraat met die Engel van die Here, die Man wat tussen die mirtebome gestaan het. Hulle het gesê: “Ons was oral op die aarde, en alles is stil en rustig op die aarde.”
12 Die Engel van die Here het toe gepraat en gesê: “Here, U wat oor alles regeer, U is 70 jaar lank kwaad vir die mense van Juda en Jerusalem. U moet asseblief weer goed wees vir hulle.”
13 Die Here het gepraat met die engel wat vir my moes sê wat alles beteken. Die Here het vir hom gesê dit sal weer goed gaan met die mense van Juda en Jerusalem.