14 Dit het bowendien ’n goeie invloed op die meeste ander mense wat ook die Here dien. Hulle sien dat daar selfs iets goeds van kan kom om in die tronk te sit. Dit laat hulle moed skep. Hulle is nie meer bang om oor Jesus te praat nie. Waar hulle vroeër maar stilgebly het omdat hulle te bang was, begin hulle nou al hoe meer oor Hom praat.
15-17 Onder julle is daar party mense wat ook graag op die kansel klim. Hulle is egter jaloers op my en wil wys dat hulle beter as ek is. Hulle probeer dit vir my moeilik maak terwyl ek hier in die tronk is. Hulle wil net graag aandag trek en stel nie regtig in ander mense belang nie. Maar daar is gelukkig ook mense wat baie goed met my oor die weg kom. Hulle is lojaal teenoor my en het my lief. Hulle weet mos dat ek in die tronk is omdat die verspreiding van God se goeie nuus vir my baie, baie belangrik is.
18 Maar wat maak dit nou alles saak? Vir my is die belangrikste dat mense van Christus moet hoor. Dit maak eintlik nie soveel saak of mense met skoon bedoelings ander mense van Jesus vertel of nie. Solank dit net gedoen word, maak dit my hart al klaar bly.En dit is nie al wat my bly maak nie.
19 Ek weet dat julle vir my bid en dat die Gees van Jesus Christus vir my gee wat ek nodig het. Daarom het ek geen twyfel dat alles uiteindelik vir my goed sal afloop nie.
20 Ek is seker dat ek nie skaam sal wees oor wat ek gedoen het nie. Ek maak Christus mos groot deur wat ek inderdaad doen, en ek doen niks skelms nie. Wat ek in die verlede gedoen het, bly ek steeds doen, maak nie saak of ek daarvoor moet sterf en of ek moet bly lewe nie.
21 Om te lewe beteken vir my om vir Christus te lewe. Ek kan nog soveel goeie dinge vir Hom doen. Maar om te sterf sal aan die ander kant ook nie vir my sleg wees nie.
22 Ek moet regtig erken, as ek tussen lewe en dood moet kies, weet ek nie watter een ek sou kies nie.