Filippense 4 DB

1 Ai, broers en susters, ek verlang so na julle, want ek het julle lief. Julle maak my bly en laat my soos ’n koning voel.Daarom, my goeie vriende, is dit vir my so belangrik dat julle getrou op die pad sal bly wat die Here vir ons gewys het.

Los julle bekommernisse, lewe in vertroue

2 Euodia en Sintige, ek vra julle baie mooi: los julle geskille op. Julle behoort mos al twee aan die Here.

3 En ek vra by name vir jou, getroue vriend wat so lekker met my saamwerk, om hierdie twee vroue te help. Hulle het baie saam met my gedoen en verduur om vir mense van die goeie boodskap te vertel. Hulle kan in een asem genoem word met Klemens en van die ander wat saam met my gewerk het. Hulle name staan opgeteken in die boek waarin almal se name opgeskryf is wat vir ewig saam met God sal lewe.

4 Julle hart behoort oor te loop van blydskap omdat julle aan die Here behoort. Ek sê weer, julle moet baie bly wees.

5 Moenie vergeet om almal mooi te behandel nie. Die Here kom mos binnekort terug.

6 Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor. Bespreek dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel. Sê dan vir Hom dankie dat jy met Hom daaroor kan praat en dat Hy die beste weet. Jy sal dan verlig en tevrede voel.Jy sal hierdie verligte gevoel nie altyd kan verklaar of wetenskaplik kan uitlê nie. Omdat jy egter weet dat jy aan Jesus behoort, sal jy nie meer omgekrap voel nie.

7 Hierdie wete dat Jesus by jou is, sal keer dat die bekommernisse weer met jou emosies weghardloop of dat jy jou weer van voor af begin bekommer.

8 Weet julle waaraan julle moet dink in plaas daarvan om julle te sit en bekommer? Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is. Moenie julle tyd mors om aan allerhande nuttelose dinge te sit en dink nie. Hou julle besig met dinge wat die moeite werd is en wat God in ’n goeie lig stel.

9 Ek stel mos vir julle ’n goeie voorbeeld. Ek het baie dinge vir julle vertel. Julle het baie by my geleer. Wat julle my gesien doen en gehoor sê het, moet julle net so doen en sê. God sal julle nie los nie. Hy sal by julle bly. By Hom sal julle veilig en gelukkig voel.

Ek en jy is tot alles in

10 Ek kan julle nie sê hoe bly ek is dat julle my nie vergeet het nie. Ek is saam met die Here daaroor bly. Vir ’n lang tyd het julle nie kans gehad om dit te wys nie. Maar ek weet dit het nie beteken dat julle nie vir my omgee nie. Daar was net nie vir julle ’n kans om iets te doen nie.

11 Moet my nie verkeerd verstaan nie. Dit is nie omdat dit met my so swaar gaan dat ek nie sonder julle hulp kon klaarkom nie. Die lewe het my al geleer om klaar te kom met wat ek het, maak nie saak wat gebeur nie.

12 Ek weet hoe dit voel om arm, nee, brandarm te wees, maar ek weet ook hoe dit voel om genoeg of selfs te veel geld te hê. Maar ek laat nie toe dat sulke dinge my onderkry of met my weghardloop nie. Ek is en bly altyd tevrede, wat my ook al tref. Dit maak nie saak of ek sonder ’n krieseltjie kos gaan slaap of soveel kos het dat ek dit nie alles kan opeet nie. Of ek net die klere aan my lyf het en of ek ’n huis vol goed op my naam het, vir my is dit eintlik maar om’t ewe.

13 Vir alles in die lewe, die goeie of die slegte, sien ek kans omdat Jesus my bron van krag is.

14 Moet my asseblief nie misverstaan nie. Dit was baie mooi van julle om my te help toe dit maar sleg met my gegaan het.

15 My liewe mede-Christene in Filippi, julle onthou mos nog hoe dit in die begin gegaan het. Ek het die goeie boodskap oor Jesus daar in die noordelike deel van Griekeland versprei. Nie ’n enkele gemeente wou my toe help nie. Maar julle was daar! Julle was bereid om te help.

16 Ek was al in Tessalonika toe het julle my nog steeds gehelp. Sommer ’n paar maal het julle vir my iets gestuur toe ek dit regtig nodig gehad het.

17 Tog is die geld wat julle vir my gestuur het nie die belangrikste nie. Wat belangriker is, is dat God vir julle ook wonderlike dinge gaan teruggee omdat julle so goed vir my was.

18 Epafroditos het vir my alles gegee wat julle gestuur het. Nou het ek oorgenoeg, alles wat ek nodig het. God hou baie daarvan. Vir Hom is dit soos ’n wonderlike offer wat baie lekker ruik. Niemand is en kan ooit so ryk en belangrik wees soos God nie.

19 Hy sal vir julle sorg deur vir julle te gee wat julle nodig het. Dit sal Hy doen omdat julle aan Jesus behoort.

20 Al die eer en respek en belangrikheid in hierdie wêreld is God s’n, vir ewig en altyd. So is dit en so sal dit wees.

Totsiens

21 Sê asseblief groete namens my aan al die Christene daar by julle.

22 Die Christene hier stuur ook groete. Die Christene wat op die keiser se personeel is, sê spesiaal groete.

23 Mag ons Here Jesus Christus baie goed vir julle wees, ver meer as wat julle verdien. Mag julle hierdie goedheid diep in julle binneste ervaar.

hoofstukke

1 2 3 4