21 Al die ander is so besig met hulle eie dinge dat wat Jesus Christus wil hê vir hulle van minder belang is.
22 Boonop ken julle Timoteus en weet wat daar in hom steek. Hy het die toets mos deeglik deurstaan. Soos ’n seun skouer aan skouer saam met sy pa werk, so het hy hom afgesloof om saam met my die mense van Jesus Christus te vertel. Ek moet erken dat ek ook baie bly sal wees om te hoor hoe dit met julle gaan.
23 Nou ja, sodra die dinge hier afgehandel is en ek weet wat die toekoms vir my inhou, beplan ek om hom na julle toe te stuur.
24 En ek hoop en bid dat die Here my sal toelaat om sommer kort op sy hakke na julle toe te kom.
25 Ek dink ook die tyd het gekom om Epafroditos na julle toe terug te stuur. Hy het saam met my geswoeg en gesweet. Julle het hom mos na my toe gestuur om my te help. Nou stuur ek hom na julle toe terug.
26 Hy verlang baie na julle.
27 Dit het hom ook gepla dat julle van sy siekte gehoor het. Glo my, hy was baie siek. Hy het by die dood omgedraai. Maar God het nie van hom vergeet nie en hom gesond gemaak. God was nie net vir hom goed nie, maar ook vir my. As hy gesterf het, sou die hartseer vir my byna te veel gewees het.