1 Wat beteken dit om op God te vertrou? Geloof of vertroue in God beteken om nie een oomblik te twyfel nie dat Hy sy beloftes sal hou en om daarna uit te sien. Ons kan dit wel nie nou al sien nie, maar ons weet vir seker dat dit sal gebeur.
2 Die Skrif praat met groot lof oor mense van die ou tyd wat so op God vertrou het.
3 Omdat ons glo, weet ons dat God die wêreld gemaak het deur net te sê dat dit daar moet wees, en dit was daar. Dit is nie gemaak uit iets wat ons kan sien nie.
4 Omdat Abel God vertrou het, het God meer van sy offer gehou as van sy broer Kain s’n. Juis omdat hy God vertrou het, was sy offer vir God goed en het God gesê dat sy verhouding met Hom reg is. Abel se geloof het dus tot vandag toe nog vir ons ’n boodskap, al is hy lankal dood.
5 Henog het God ook so vertrou. Daarom is hy nie soos ander dood nie, maar God het hom kom haal en hemel toe gevat. Hulle het hom oral gesoek, maar kon hom nie kry nie, want God het hom weggevat. Voor dit egter gebeur het, het almal al daaroor gepraat dat God trots was op die manier waarop Henog geleef het.
6 Dit kan nie gebeur as ’n mens nie op God vertrou nie. En daar is ’n goeie rede voor: ’n mens sal God net soek en na Hom toe gaan as jy oortuig is en vertrou dat Hy dáár is en dat Hy mense wat na Hom toe kom met oop arms ontvang.
7 Dink ook aan Noag. Hy het geglo wat God vir hom gesê het en het in alle erns ’n skip gebou om sy familie te red. Gelowig het hy geluister en gedoen, al was daar nog geen teken van reën of oorstromings wat sou kom nie. Sy geloof het duidelik gewys hoe ongelowig die ander mense was, en daarom kan hulle nie nou verskonings maak nie. Noag het gewys dat vertroue op God ’n mens vrymaak voor God.
8 God het vir Abraham gesê dat hy sy goed moet vat en na ’n ver plek moet trek wat God dan vir hom as ’n blyplek sou gee. Abraham het glad nie geweet waar dit was nie, maar het gehoorsaam sy goed gevat en gegaan.
9 En die rede: hy het God heeltemal vertrou. Juis daarom het hy sy tent gaan opslaan in daardie land wat God vir hom beloof het, al is hy eers soos ’n vreemdeling daar behandel. Isak en Jakob, vir wie God ook die land beloof het, het daar saam met hom in tente gebly.
10 Abraham het die hele tyd uitgesien na die stad wat op fondamente gebou sou word, die stad wat God self sou ontwerp en bou.
11 Abraham was al baie oud en hy en sy vrou Sara kon nie kinders hê nie. Tog het Abraham op die Here vertrou en pa geword. Hy het geglo dat God die belofte wat Hy gemaak het, nie sou breek nie.
12 En kyk net na die gevolge: uit een man, wat eintlik self nie meer kinders kon hê nie, het daar ’n nageslag gekom wat ’n mens vandag nie meer kan tel nie. Hulle is so baie soos die sterre aan die hemel of die sandkorrels op die strand.
13 Abraham, Isak en Jakob het in hulle leeftyd nog nie alles gekry wat God beloof het nie. Nogtans het hulle op God bly vertrou tot hulle dood. Soos mense wat in die toekoms kon inkyk, het hulle gesien wat God alles nog sou doen en hulle was baie bly daaroor. Hulle het besef dat hierdie wêreld eintlik nie hulle regte blyplek is nie. Hulle was maar net tydelik hier.
14 Deur so te praat het hulle gewys dat hulle uitsien na ’n ander blyplek wat net hulle s’n sou wees.
15 As hulle terugverlang het na die land waaruit hulle oorspronklik getrek het, kon hulle maklik omgedraai en teruggegaan het.
16 Hulle het egter gesmag na ’n beter blyplek van hulle eie, ’n plek in die hemel by God. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie. Om die waarheid te sê, Hy het vir hulle ’n spesiale blyplek by Hom reggemaak.
17-18 God wou kyk of Abraham regtig in Hom glo. Daarom het Hy gesê dat Abraham Isak moes gaan doodmaak. Abraham het na God geluister, omdat hy God vertrou het. God het immers vir hom beloof dat hy ’n nageslag sou hê en gesê: “Isak is die een deur wie Ek vir jou ’n groot nageslag sal gee.” Nou moes hy daardie seun gaan doodmaak.
19 Dit het nie vir Abraham logies geklink nie, maar hy het God vertrou. Hy het geredeneer dat God Isak weer lewendig sou maak, want Hy kan dit doen. Eintlik kan ’n mens dus sê dat Abraham wel vir Isak doodgemaak het en dat hy sy seun weer uit die dood teruggekry het.
20 Omdat Isak God vertrou het, kon hy sy seuns, Jakob en Esau, ’n goeie toekoms beloof.
21 Jakob het net so op God vertrou. Toe hy op sy sterfbed gelê het, het hy ook vir sy kinders ’n mooi toekoms beloof. So, terwyl hy op sy kierie leun, het hy met God in aanbidding gepraat.
22 Dieselfde het met Josef gebeur, want hy het ook in God geglo. Toe hy begin voel dat die dood nader kom, het hy die Israeliete vertel hoe God sal sorg dat hulle uit Egipte sal trek. Hy het selfs gereël wat hulle met sy lyk moes maak.
23 Moses se pa en ma het ook so op God vertrou. Nadat hy gebore is, het hulle Moses drie maande lank weggesteek, want die koning het gesê dat die kinders doodgemaak moes word. Hulle het egter besef dat Moses baie spesiaal was en was nie bang vir wat die koning gesê het nie.
24 Omdat hy op die Here vertrou het, het Moses, toe hy groter geword het, geweier dat mense hom die kleinseun van die koning van Egipte noem.
25 Hy het sy keuse gemaak: hy sou eerder sleg behandel word saam met die mense van God as om ’n kort rukkie lekker in die sonde te baljaar.
26 Dit was vir hom baie beter dat daar op hom getrap word ter wille van die Redder wat sou kom, as om al die skatte van Egipte te hê.
27 Hy het besef dat God hom iewers in die toekoms dubbel en dwars sou beloon. Hy het toe sy goed gevat en is uit Egipte uit, sonder om bang te wees vir wat die koning sou sê of doen, want hy het op God vertrou. Hy het hom glad nie van koers af laat bring nie; dit was byna of hy God by hom kon sien, al is God onsigbaar. Dit is later in sy lewe weer bewys.
28 Hy het vir die Israeliete gesê om die paasfees te vier en bloed aan hulle deure te smeer, want hy het die Here vertrou. Hy het geweet dat die oudste kinders van Israel nie daardie nag sou doodgaan wanneer al die ander oudste kinders in Egipte doodgaan nie.
29 Dit was ook omdat die mense van God Hom vertrou het dat hulle deur die Rooisee is asof dit droë land is. Toe die Egiptenaars dit probeer het, het hulle almal verdrink.
30 Op dieselfde manier het die mure van Jerigo inmekaargesak nadat God se mense sewe dae lank elke dag om die stad getrek het.
31 En dan was daar nog Ragab, die straatvrou. Sy het in God geglo en die Israelitiese spioene gehelp. Daarom het God haar nie saam met al die ander ongehoorsame mense van die stad doodgemaak nie.
32 Wat meer hoef ek nog te sê? Ek kan heeldag besig bly om nog sulke voorbeelde te gee. Dink maar net aan Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en al die ander manne wat God se boodskap moes verkondig.
33 Omdat hulle God vertrou het, het hulle konings op hulle plek gesit, gedoen waarvan God hou en gekry wat God beloof het. Leeus kon party van hulle nie verskeur nie,
34 vure kon ander nie brand nie en mense kon party van hulle nie met swaarde doodmaak nie. Hoewel sommige hopeloos en swak gelyk het, het God hulle sterk gemaak. Ander het weer soos tiere in oorloë geveg en die leërs van vreemde magte verwilder.
35 Dit het ook gebeur dat vroue wie se dierbares dood was hulle weer lewendig teruggekry het. Maar daar was ook ander wat eerder gekies het om gemartel te word as om onder sekere voorwaardes losgelaat te word. Hulle het daarna uitgesien om na die dood op te staan in ’n baie beter lewe by God.
36 Party is uitgejou en geslaan, terwyl ander geboei in die tronk gegooi is.
37 Die lysie word langer: van hulle is met klippe doodgegooi, ander is in stukke gesaag of met swaarde doodgekap. Met party het dit so sleg gegaan dat hulle net ’n skaap- of bokvelletjie gehad het om aan te trek. Hulle het nie eens behoorlik kos gehad om te eet nie, en waar hulle ook al gekom het, het mense hulle weggejaag en sleg behandel. Hulle het in die wildernis gaan bly en in grotte en gate weggekruip.
38 Die wêreld het nie regtig besef wie hulle is nie, want dan sou hulle geweet het dat hierdie mense baie beter as hulle was.
39 Hoewel daar soveel mooi dinge oor hierdie mense gesê is omdat hulle so op God vertrou het, het hulle ook nog nie alles gekry wat God vir hulle beloof het nie.
40 God het ’n ander, baie beter plan met ons almal. Hulle sal nie alleen nie, maar saam met ons alles volledig kry wat God vir ons almal wil en sal gee.