Hebreërs 8:3-9 DB

3 Die eintlike werk wat ’n hoëpriester moet doen, is om namens mense vir God geskenke en offers te gee. Jesus moes daarom ook iets hê om te offer.

4 As Hy maar net ’n gewone mens op aarde was, sou Hy nie eens ’n priester kon wees nie, want daar was al priesters. Die wet sê mos presies wie op aarde ’n priester mag wees en wie nie.

5 Hierdie priesters werk egter in ’n heilige plek op aarde wat in vergelyking met die hemelse heilige plek maar net soos ’n skaduwee is. Die aardse een is maar soos ’n tekening van die werklike een in die hemel. Toe Moses die heilige plek vir die Israeliete in die woestyn reggemaak het, het God dit mos duidelik vir hom gesê: “Maak doodseker dat jy alles presies so maak soos Ek dit vir jou op die berg gewys het toe jy by My was.”

6 Die werk wat Jesus as priester doen, is baie beter as die ander priesters se beste pogings. Net so is die ooreenkoms wat Hy tussen God en die mense gemaak het verreweg beter as die oue, omdat dít wat God beloof het soveel beter is.

7 As die eerste ooreenkoms volledig en sonder probleme was, sou ’n tweede een mos nie nodig gewees het nie. Dat alles nie met die eerste ooreenkoms reg verloop het nie, kan ons daarin sien dat God ontevrede met sy mense was.

8 Luister wat het Hy gesê: “Die tyd sal kom wanneer Ek ’n nuwe ooreenkoms met die mense van Israel en Juda sal maak.

9 Dit sal heeltemal anders wees as die ooreenkoms wat Ek met hulle voorgeslagte gemaak het. Ek praat van die ooreenkoms wat Ek met hulle gemaak het toe Ek hulle veilig uit Egipte uitgelei het. Maar hulle het nie hulle deel van die ooreenkoms nagekom nie. Daarom het Ek ook nie meer my deel van die ooreenkoms nagekom nie en my rug vir hulle gedraai.”Dit het die Here gesê. Maar die Here het verder gegaan: