6 Die werk wat Jesus as priester doen, is baie beter as die ander priesters se beste pogings. Net so is die ooreenkoms wat Hy tussen God en die mense gemaak het verreweg beter as die oue, omdat dít wat God beloof het soveel beter is.
7 As die eerste ooreenkoms volledig en sonder probleme was, sou ’n tweede een mos nie nodig gewees het nie. Dat alles nie met die eerste ooreenkoms reg verloop het nie, kan ons daarin sien dat God ontevrede met sy mense was.
8 Luister wat het Hy gesê: “Die tyd sal kom wanneer Ek ’n nuwe ooreenkoms met die mense van Israel en Juda sal maak.
9 Dit sal heeltemal anders wees as die ooreenkoms wat Ek met hulle voorgeslagte gemaak het. Ek praat van die ooreenkoms wat Ek met hulle gemaak het toe Ek hulle veilig uit Egipte uitgelei het. Maar hulle het nie hulle deel van die ooreenkoms nagekom nie. Daarom het Ek ook nie meer my deel van die ooreenkoms nagekom nie en my rug vir hulle gedraai.”Dit het die Here gesê. Maar die Here het verder gegaan:
10 “Ek sal in die toekoms ’n nuwe ooreenkoms met my mense maak. Ek sal seker maak dat hulle nooit sal vergeet wat Ek van hulle wil hê nie. Wat Ek van hulle verwag, sal Ek deel van hulle lewe maak. Ek sal vir hulle hulle God wees en hulle sal my mense wees.
11 Dit sal nie meer vir hulle nodig wees om onder mekaar te sê nie: ‘Jy moet meer erns maak om die Here te leer ken.’ Hulle almal sal My persoonlik ken, klein en groot.
12 Ek sal al die dinge oorsien wat hulle verkeerd gedoen het en hulle foute sal My nie meer pla nie.”